Originally published in Die Burger
Die akademie, en spesifiek antropologie, is vol olifante, skryf Arrie
de Beer. Maar één van hulle veroorsaak nou ’n beroering, al word hy
selde by die naam genoem.
Die professor wat doelgerig in
die gang van die Universiteit van Kaapstad afstap, glimlag gemaklik vir
die studente en kollegas om hom. As jy hom nie persoonlik ken nie en sy
foto Google, is dit ook wat ’n mens sal sien: Die vriendelike gesig met
die ruim glimlag.
Soos ander senior dosente aan Afrika se
top-navorsingsuniversiteit is prof. Francis B. Nyamnjoh, hoogleraar en
departementshoof van sosiale antropologie, volgens die Suid-Afrikaanse
Nasionale Navorsingstigting ’n navorser wat aansienlike internasionale
erkenning vir die hoë gehalte en impak van sy werk geniet.
Onsigbaar vir diegene om hom, trompetter ’n donker Afrika-olifant (genus Academica) voor hom uit. Dit is die spreekwoordelike (rasse-)olifant in die (raads)kamer, waarvan niemand skynbaar bewus is nie, maar almal weet hy is daar: ’n xenofobiese olifant met ’n doring in sy voet, waar hy ook al sit-, staan- of werkplek in die sale van universiteitsgeleerdheid probeer kry.
Saam-saam stap Nyamnjoh en die oënskynlik onsigbare olifant na die konferensiesaal waar hy afdrukke van ’n beoogde artikel* informeel onder van sy kollegas vir kommentaar uitdeel. Nie te lank daarna nie is daar ’n beroering onder die antropoloë.
Die boodskap wat Nyamnjoh aan sy kollegas oordra en waaroor niemand skynbaar wil praat of erken dat dit bestaan nie, lui min of meer so: Anders as in die geval van die ander akademiese olifante, word die Afrika-olifant op bestuurs- en administratiewe vlak óf nie by die naam genoem óf nie in gesprekke en besluitneming oor navorsingsprojekte voldoende betrek nie.
In die akademiese wêreld van die sosiale wetenskappe is die reste van koloniale denke nog duidelik te bespeur. Afrika-navorsers wat poog om hulself in die Suid-Afrikaanse akademiese omgewing te bewys, word al te maklik deur hul wit kollegas genegeer en gering geskat. Hul waardesisteme en kreatiwiteit word gedevalueer.
Nyamnjoh se artikel begin met ’n ou-ou verhaal uit die Indiese sprokieskat: Van die drie blinde mans** (in sommige weergawes drie of meer muise) wat moes vasstel wat ’n olifant is. Een bevoel ’n poot, die tweede die slurp en die derde kry die stert beet. Al drie gee ’n element van die olifant weer wat hulle met hul tassintuig ervaar. Nie een is in staat om die olifant holisties waar te neem en werklik te “sien” of te “ken” nie.
Maar, sê Nyamnjoh, selfs al was hulle nie blind nie en het hulle die hele olifant gesien, sou dit nog nie beteken dat hulle die (Afrika-akademiese) olifant ten volle ken nie. Realiteit behels veel meer as blote sintuiglike waarneming. So verg dit ook veel meer as om Afrika-kollegas net op die oppervlak (en oppervlakkig) waar te neem. Ware kennis strek veel verder.
Wanneer die “blinde” wit wetenskaplikes met hul Afrika-kollegas saamwerk, is hulle nie altyd daarvan bewus dat hulle nie soos die blinde mans in die verhaal net die uiterlike moet identifiseer nie, maar dat hulle van hul eie blindheid bewus sal wees – net soos die Afrika-olifant van syne moet wees. Die “blindheid” sluit in voorveronderstellings, vooroordeel, en ’n neiging om mense op sigwaarde te beoordeel.
Om die olifant, of te wete die Afrika-wetenskaplikes, getrou te kan beoordeel, is dit noodsaaklik om te besef dat die mens ’n komplekse wese en genuanseerde realiteit is wat nie sonder meer tot die afsonderlike dele of sensoriese persepsie soos in die verhaal van die blinde mans en die olifant gereduseer kan word nie.
En as die Afrika-olifant kon praat, maak dit saak hoe hy oor die “blinde” wit akademici se evaluering voel? Oor hoe hy waargeneem en beoordeel word? Is dit moontlik dat die olifant hom dalk nié tot beoordeling deur een of ’n groepie van blinde mans leen nie? Of deur die hele gemeen skap van medenavorsers? Selfs al werk die mans en die olifant elke dag saam en al is hul samewerking ook hoe oortuigend, vind dit altyd plaas teen die agtergrond van verskillende invalshoeke en perspektiewe, sê Nyamnjoh.
As die blinde mans ware navorsers was, sou hulle besef het dat wetenskaplike denke ’n kollektiewe aksie is wat mense en olifante insluit en dat niemand ’n monopolie op kennis het nie. Oordele moet onderhandel word. Dit verg nederigheid en gemeenskaplike akkommodering aan die kant van hulle wat meen hulle beskik oor ware kennis van die ander.
Navorsing, veral in die geval van sosiale etnografie wat op kwalitatiewe wyse gemeenskappe, sosiale stelsels en kulture bestudeer, word nog al te dikwels in Suid-Afrika as ’n monoloog eerder as ’n dialoog gevoer.
Daar is te min self-refleksie in die werk wat navorsers doen, en nog minder stiptelike en sistematiese dialoog met Afrika-navorsers saam met wie navorsingsprojekte aan- en deurgevoer word. Sulke navorsing oor Afrika word dan blindweg as ’n delikatesse aan ’n Westerse leserspubliek gevoer.
Een van die belangrike redes waarom sommige wit navorsers steeds na Afrika met ’n koloniale oog kyk, is omdat hulle ou terminologie soos stam (tribe) gebruik. Nyamnjoh verwys na die standpunt van die Amerikaanse antropoloog Ronald Cohen wat die begrip terugvoer na die Latynse “tribus” wat op barbare aan die grens van die Romeinse ryk dui. Volgens Cohen is dié soort begrippe deel van die Westerse imperialistiese uitbreidingsdrang wat die wêreld in twee dele, beskaaf en onbeskaaf, verdeel het.
Dié stambeskouing trek Nyamnjoh deur na die geledere van die antropologiese vakgebied in Suid-Afrika waar die wit stam van geleerdes nog tot groot hoogte bepaal hoe die vak bedryf moet word en wie tot die geledere van navorsers toegelaat sal word. Te maklik vind daar uitsluiting plaas en moet die Afrika-navorser hom afvra of hy van die regte ras of klas is en of hy op die regte plek is. Wat staan so ’n navorser te doen as daar op verskillende maniere (soos met die onsigbare olifant in die kamer) te kenne gegee word dat hy of sy, ongeag van opleiding, status in die vakgebied en aspirasies, nie werklik ’n antropoloog of enige ander soort sosiaal-wetenskaplike navorser is nie?
So is Nyamnjoh dan ook verbaas dat Suid-Afrikaanse wit antropoloë ná meer as 350 jaar Afrika steeds van “buite” bestudeer, so asof hulle nie deel van die vasteland is nie. Hulle is wit antropoloë ín Afrika, maar nie noodwendig ván Afrika nie, selfs al woon hulle hul hele lewe op die vasteland. Gevolglik probeer sulke antropoloë ook nie om ander wit Afrikane te “ken” of te bestudeer nie, so asof om wit en ’n Afrikaan te wees ’n kontradiksie in terme is.
Daarom is dit opvallend dat betreklik min antropologiese studies oor wit Afrikane gedoen is, terwyl die omgekeerde met swart Afrikane die geval is, hoofsaaklik omdat daar afwaarts, en nie genoegsaam horisontaal of boontoe nie, navorsing gedoen word.
Hoewel talle Suid-Afrikaanse antropoloë nie Nyamnjoh se standpunt ondersteun nie, sê David Bogopa, antropoloog aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit, hy stem heelhartig saam: Histories-wit departemente sien soms neer op swart departemente en beskik oor die mag en monopolie om denke in die vakgebied voor te skryf. Dit geld van die keuse en aanvaarding van vakkundige artikels tot deelname aan vakkundige konferensies.
Intussen staan die onsigbare olifant ongeduldig in die akademiese kamer rond.
* http://hup.sub.uni-hamburg.de/giga/afsp/article/view/551/549
** Nyamnjoh sal die eerste wees om te sê die storie kon net so wel oor drie vroue gehandel het.
- Prof. Arrie de Beer is ’n navorser in die joernalistiek en het ’n belangstelling in media-antropologie en -etnografie. Hy woon op Stellenbosch.
Comments